previous
 
 
 

THE LONELINESS OF SKIN
jy laat my voor loop, maar bly self skuins staan
sit jou vingers liggies op my rug sodat
my somerskouers verby jou lapelle skuur
my werwels loop uit in lig

skaamteloos kom lê jou oë op my arms
sulke nat swart oë het jy wat nooit knip nie – nugter
gly dit my borste binne
ek word daarvan litterig, lieflik, ligter

as wyn direk die slagaar giet
sak jou mond swaar oop om die glas
subiet word my lyf totaal orgaan

later as geswolle wond deur jou voorarm
teen die muur geknel – ontplof my ganse skelet
en bars verby die wit versperring van vel